• +27 (0) 44 802 4534
  • This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

KINGSWOOD SE OMGEEVROUE HELP KINDERS

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die kinders wat deel is van gesinne wat in die sogenaamde 'Hoenderhokke' op 'n plaas in Hansmoeskraal woon, lê na aan die hart van 'n groepie vroue van die Kingswood-gholflandgoed.

Die Kingswood Vroue wat Omgee, soos hulle bekendstaan, het hulle oor die lot van die kinders ontferm en met die hulp van twee vrywilliger-onderwysers 'n speelskooltjie op die plaas begin waar daar drie keer per week speel-speel geleer word.

Zoë Rocher het die kleuters onder haar vlerk geneem, en Gwen van Dyk is onderwyseres vir die ouer groepie wat sy help lees en ander vaardighede aanleer.

Jan Oosthuizen, die eienaar van die plaas, het 'n gedeelte van 'n buitegebou beskikbaar gestel vir die klasse van die ouer kinders terwyl die kleutergroep in 'n gawe inwoner se sitkamer vergader.

Danksy donasies van Kingswood-inwoners en ander persone in die Tuinroete, is 'n stimulerende en kleurvolle omgewing geskep met speelgoed, skryfbehoeftes, speletjies en ander benodigdhede en die vroue hoop dat hulle 'n blywende impak op die kinders se lewens kan maak.

Maryna Kimble, onder wie se leiding die vroue staan, sê die kinders floreer onder die aandag. "Een van hulle wat ons gedink het is disleksies, het ontpop as 'n slim outjie wat nou graag lees en goed is met wiskunde."

Die kinders van die speelskool en ander gesinne op die plaas ontvang warm etes voor die begin van elke klas. Die vroue het 'n voedselprogram wat ook ander behoeftige kinders en gesinne in George help om gereeld 'n maaltyd op die tafel te hê.

Michelle Burmeister van Kingswood is Kimble se getroue staatmaker met die weeklikse voorbereiding en uitdeel van maaltye vanuit haar eie motor. "En sonder die ander vroue wat help kook en skenkers van Kingswood sou ons dit nie kon doen nie. Danksy die projek is baie vriendskappe op die landgoed gesmee en 'n samehorigheidsgevoel geskep met soveel seëninge van die Vader."

Beryl van Rhyn, namens die George Hospitaal Trust se #masksforgeorge-projek, het op Woensdag 26 Augustus gaan kyk wat op die plaas vermag word en terselfdertyd anti-bakteriese maskers vir die 'Hoenderhok'-inwoners en hul kinders geskenk.

Ook die kleuters het anti-bakteriese maskers ontvang van Beryl Bronkhorst (regs), wat namens die George-hospitaaltrust se Masks for George-projek maskers uitgedeel het. Links staan Zoë Rocher, die kinders se onderwyseres. 

Netelige situasie en duur hofsake
Toe Oosthuizen die plaas 'n klompie jaar gelede gekoop het, het hy in 'n netelige situasie ingestap met 70 mense wat op die grond in strukture gewoon het wat voorheen as hoenderhokke gebruik is. Die vorige eienaar het dit as woonplekke uitverhuur. 

'n Koopvoorwaarde was dat die mense van die grond af moes wees wanneer die transaksie gefinaliseer word, maar dit het nie gerealiseer nie. Oosthuizen sê hy moet vir die mense alternatiewe verblyf gee anders bly hulle op sy grond aan. Die afgelope paar jaar het van hulle weggetrek en daar is nou 15 gesinne oor. 

Dit het hom duur hofsake gekos om te verseker dat onwettige kragaansluitings na die strukture afgesny word. Ten spyte van 'n uitspraak van die hooggeregshof in sy guns, is daar nou weer om dieselfde rede - vir kragaansluiting - 'n regsgeding teen hom begin. 

"Die mense wil op my grond vir my sê wat om te doen. Dis 'n moeilike situasie wat my honderde duisende kos," sê Oosthuizen. Hy verhoed egter nie weldoeners soos die Kingswood Ladies that Care om die mense, en veral die kinders, by te staan nie.

Maryna Kimble van Kingswood Ladies that Care deel kolwyntjies uit onder gretige kleuters. Foto's: Alida de Beer


© 2024 George Hospital Trust. All Rights Reserved. Brand Management & Design by www.blazeinnovate.co.za